top of page

GRONDSLAG VAN DIE TUSSENKERKLIKE RAAD

​

1 Naam

Tussenkerklike Raad

​

2 Aard

Die Tussenkerklike Raad is ‘n Raad van kerkgemeenskappe wat die Drie Formuliere van Eenheid onderskryf op grond waarvan die kerkgemeenskappe hulle eenheid in Jesus Christus in die Raad tot uitdrukking bring en bevorder deur ‘n gesamentlike agenda af te handel.

​

3 Samestelling

Die Tussenkerklike Raad word saamgestel uit kerkgemeenskappe wat die genoemde belydenisskrifte onderskryf en na aansoek, of uitnodiging,  aansluit.

 

Historiese perspektief

Die samestellende kerke tydens stigting is die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. Die besondere verhouding tussen hierdie kerkgemeenskappe, wat vanaf 1958 in die Tussenkerklike Kommissie tot uitdrukking gekom het, het in Februarie 2004 op die stigting van die Tussenkerklike Raad uitgeloop. Hierdie verhouding het uit ‘n gemeenskaplike reformatoriese herkoms, ‘n gesamentlike sosio-historiese kontekstualiteit en ‘n gemeenskaplike taal gegroei. Ondanks die verskeidenheid in kerkformasie en kerklike etos, asook graadverskille in die belewing van die gemeenskaplike belydenis, het dié kerkgemeenskappe deur die jare op grond van ‘n gemeenskaplike groeibodem ‘n verhouding van geloofseenheid in Christus gehandhaaf  en hulle streef steeds daarna om dié verhouding tot ‘n hegter kerkregtelik verantwoorde eenheid te voer.

​

4 Kerkregtelike posisionering

Die Tussenkerklike Raad word uit die saamwerkende kerkgemeenskappe saamgestel, op die wyse wat elke kerkgemeenskap geskik ag. Die verteenwoordigers van die saamwerkende kerkgemeenskappe werk op sterkte van die mandaat wat die betrokke kerkgemeenskap aan hulle verteenwoordigers gegee het in die Tussenkerklike Raad saam binne die raamwerk van die Skrif, die Drie Formuliere van Eenheid en die betrokke kerkorde van elke kerkgemeenskap. Binne hierdie raamwerk oordeel die Tussenkerklike Raad hoe die agenda afgehandel kan word en rapporteer aan die onderskeie kerkgemeenskappe oor sy werksaamhede.

​

5  Opdrag

Om kerklike eenheid op grond van dieselfde belydenisskrifte in Jesus Christus te belewe en te bevorder deur

  1. ’n krities-opbouende gesprek tussen die saamwerkende kerkgemeenskappe voort te sit;

  2. kennis te neem van bestaande samewerkingsterreine en ‘n geheelbeeld daarvan aan die saamwerkende kerkgemeenskappe te gee;

  3. nuwe samewerkingsterreine tussen die saamwerkende kerkgemeenskappe te identifiseer, te koördineer, en met verantwoording aan die onderskeie mandaatgewers uit te bou;

  4. waar nodig gesamentlike getuienis in die samelewing en aan die owerhede te lewer;

  5. in die Tussenkerklike Raad nuwe ontwikkelinge in die saamwerkende kerke, of beëindiging van bepaalde kerklike praktyke, of verdere presisering van wesenlike aspekte van kerkwees in die ontwikkelingsfase  daarvan  mee te deel en te toets;

  6. kerklike sake van gemeenskaplike belang gesamentlik in ‘n wyer sfeer in die Konvent van Reformatoriese Kerke in Suider-Afrika te bevorder.

​

Toeligtingsperspektief

(i)   Bestaande samewerkingsterreine is onder andere

  • Bybelvertaling;

  • dae van verootmoediging en gebed;

  • vertalings, wysigings en samestellings van liturgiese en ander kerklike geskrifte;

  • gesamentlike kerklike belange in onderwys- en maatskaplike sake;

  • gesamentlike projekte in die breë gemeenskap; en

  • samewerking tussen kerkgemeenskappe op plaaslike vlak.

  1. Die mandaatgewende vergaderings versoek die betrokke saamwerkende kommissies en deputategroepe om jaarliks inligting van hulle werksaamhede aan die Tussenkerklike Raad te verskaf met die oog op ‘n geheelbeeld, die identifisering van bykomende sake, en nuwe samewerkingsterreine. 

  2. Deputaatgroepe en kommissies van die onderskeie kerkgemeenskappe rapporteer steeds aan hulle mandaatgewers.

​

​

6 Konstituering, administrasie en werkswyse

  1. Die Tussenkerklike Raad word gekonstitueer deurdat die saamwerkende kerkgemeenskappe elkeen sewe afgevaardigdes benoem. Geen beperking word op die getal waarnemers geplaas nie.

  2. Die Tussenkerklike Raad benoem ‘n Interimkomitee van twee afgevaardigdes van elke kerkgemeenskap wat as dagbestuur optree.

  3. Die ooreenstemmende voorsitterskap en skribaat van die Tussenkerklike Raad en die Interimkomitee word roterend, soos deur die Tussenkerklike Raad bepaal, behartig.

    1. Die taak van die voorsitter is om die leiding op beide vergaderings by wyse van erkende prosedurereëlings te gee.

    2. Die taak van die skriba is om notules te hou, beide vergaderings te reël, en die stukke in bewaring te hou.

    3. Die Interimkomitee vergader wanneer dit nodig geag word en stel die agenda van die Tussenkerklike Raad saam wat minstens twee keer per jaar vergader.

    4. Die vasstelling van die agenda kan vir die koördinering van gemeenskaplike sake meebring dat ad hoc afgevaardigdes van verskeie relevante deputate, deputategroepe en kommissies van die saamwerkende kerkgemeenskappe insette op die Tussenkerklike Raad lewer.

    5. Alle koste met betrekking tot die Tussenkerklike Raad en die Interimkomitee word pro rata, soos voorgestel deur die Interimkomitee en vasgestel deur die Tussenkerklike Raad, deur die saamwerkende kerkgemeenskappe gedra en deur die skriba hanteer.

​

7 Wysiging aan die Grondslag van die Tussenkerklike Raad

Wysigings van administratiewe reëlings word met ‘n twee derde meerderheidstem goedgekeur. Prinsipiële wysigings wat die aard van die Tussenkerklike Raad, die samestelling, kerkregtelike posisionering en die opdrag daarvan wesenlik verander, moet deur die bevoegde vergaderings van die saamwerkende kerkgemeenskappe goedgekeur word.

bottom of page